Al Die Eer Behoort Aan God…

Die verlamde man wat Petrus gesond gemaak het, het al agter Petrus en Johannes bly aanloop. Hierdie was die grootste gebeurtenis ooit in sy lewe, hoekom sou hy hulle dan nie bly volg nie? Hulle het immers sy hele bestaan verander! Intussen het die nuus soos ‘n veldbrand deur Jerusalem versprei. Uit elke uithoek van die stad het die Jode tempel toe gestroom om eerstehands hierdie wonderwerk te sien. Petrus het oornag ‘n held geword, of in vandag se terme: ‘n “Idol”. So maklik kon hy al die eer vir homself neem en beroemd word.

Maar Petrus wag totdat daar ‘n klómp mense om hom saamdrom, en toe laat bars hy die bom: “Nou wat staan en staar julle my so aan!!!!!? Ek het niks gedoen nie! Dit was Jesus, die Man wat júlle vermoor het, wat hom gesond gemaak het.”

Dis so maklik om eer en roem vir jouself toe te eien, en natuurlik is dit boonop baie lekker. Ek weet! Ek was persoonlik daar deur! As ek die aand op die verhoog iets mooi sing, en die mense klap hande, dan swel jou bors en jy kry baie lekker. Seker niks daarmee verkeerd nie. Maar as jy begin dink: “Sjoe, ék het darem die gehoor aan mý lippe laat hang! Ek is goed! Ek is ‘n ‘Selebrity!'” dan hang daar ‘n groot vraagteken oor jou gesindheid. En selfs in die Kerk soek ek soms eie eer as ek sing om mense te beïndruk. En dan vergeet ek baie maklik dat dit God is wat my die talent gegee het om te kan sing, en dat ek eintlik daar sing om God te eer en nie om mense te vermaak nie! Dit word veral moeilik as iemand na die diens kom sê: “Sjoe! Jy het mooi gesing!”

Dít was mý kruis. Wat is jóúne? Is jy dalk ‘n bobaas pannekoekbakster, en jou hart swel van trots as mense jou daaroor komplimenteer? Of jy skilder asemrowende mooi tonele op ‘n doek? Of dalk bespeel jy die een of ander musiekinstrument of kook jy baie lekker kos. Dink maar ‘n bietjie: op watter terrein van jou lewe sê jy: “Dit is Ekke wat só goed is!”? Dit kan selfs wees dat jy sê: “Dit is deur my eie harde werk dat ek héél bo in die lewe gekom het. Niemand het my gehelp nie!”

In die gedeelte wat ons in Handelinge lees, het Petrus nie alleen vir sy toeskouers laat verstaan dat dit nie hý was wat die wonderwerk gedoen het nie, maar hy het ook die geleentheid aangegryp om sommer ‘n hele preek daarvan te maak, en vir die mense te verduidelik hoe die profete voorspel het van Jesus, en dat Hy moes ly en sterf sodat húlle kon lewe. Hy pleit ook by hulle om tot bekering te kom, want dan sal God hulle sondes vergewe. Op hierdie manier het Petrus van ‘n potensieel negatiewe situasie van eie eer, ‘n uiters positiewe situasie geskep waarin alles na God gewys het.

Ek weet, dit is baie moeilik, maar kom ons gee vandag al die eer aan God vir absoluut alles in ons lewe!

Sukkel u, of iemand wat u ken, om op te hou rook? KLIEK HIER vir ‘n beproefde, veilige, natuurlike oplossing